Ek het grootgeword met 'ons manne op die grens' en daar was fluisteringe oor die Kubane wat daar in die bos wag en selfs hoe pikswart hulle is wanneer hulle daar raakgeloop word. Ek onthou die vrees vir die Kommunistiese gevaar en landmyne wat ontplof in die Noorde van ons land en gereeld lyste van soldate wat op die grens omgekom het.
Toe kom die laat 80's en dinge begin verander in SA en daar is selfs met die ANC gepraat en uiteindelik het ons manne nie meer 'grens' toe gegaan nie.
'n Ruk later het die Kubane die land ingestroom om as dokters in afgelee gebiede te kom werk en dit was moeilik, in die begin om te verstaan dat hulle wat ons vyand was nie lank terug nie, nou hier was om te werk...Tussen die twee tydperke, onthou ek egter 'n modeartikel in 'n populere Afrikaanse tydskrif, wat in Havana geskiet is. Daar is my droom gebore, 'n droom om die misterieuse ou stad te sien, met die wonderlike ou geboue met klein balkonnetjies waaraan die wasgoed hang. 'n Droom om die ou Amerikaanse karre van die vyftigs te sien wat die strate van ou Havana volstaan en wat nog as elke dagse vervoer gebruik word, pleks van om op spesiale Sondae uitgehaal en blink gepoets te word om dan met trots in die straat afgery te word, om mee te spog. Dit was 'n droom wat min mense van geweet het en ek dink ekself het gedink dit is maar soos my droom om eendag vir Tibet te sien. 'n Droom wat heel moontlik maar altyd 'n droom sal bly.
Tot verlede jaar toe 'n vriendin laat val dat sy nog eendag Kuba toe wil gaan. Snaaks hoe mens iemand jare kan ken en steeds nie weet dat julle dieselfde droom in jul harte koester nie.
Daar en dan het ons begin beplan aan die reis na hierdie enigmatiese deel van die wereld, 'n land wat deur 'n man regeer word wat al vir jare vir Amerika uithou.
Meer oor hierdie storie op 'n ander dag....