hier, word bladsye gevul, met die asemteue van my hart. (Soos aanbeveel deur William Wordsworth)
Monday, June 1, 2009
Friday, May 1, 2009
Wednesday, April 1, 2009
Sunday, March 1, 2009
seil en sterre kyk
Maart in my Mucha kalender.
Kyk hier na die ander maande, wat ek in my blog gepos het.
Ek kan nie wag om hierdie prente in my joernaal te gebruik nie!
Ons gaan seil hierdie week, met die boot in die foto bo aan my blog. Is ek nie geseend nie? Ja, ek weet, ek bly in die Paradys en kan seil, net wanneer ek wil en die see geniet, terwyl my vriende in Engeland vries en dit een van die dae Winter sal wees in Suid-Afrika.
Dit is defnitief 'n makliker lewe om in die trope te bly. Ek dra glad nie toe skoene nie en het vandat ek hier bly nog nooit 'n trui of selfs 'n langmou top gedra nie of selfs 'n langbroek nie! Moenie eens praat van jeans nie, ek sal seker nooit weer een dra nie, nie terwyl ek hier bly nie.
Dit is net rokke en kortbroeke, ek weet dit is vir sommige mense 'n droom, maar ek mis Winter klere, dit was nog altyd mooier vir my as Somers klere.
I.e.g. ons gaan seil die week.
Hopelik is die see nie te rof nie en raak ek nie te erg seesiek nie, dit kan nogal 'n probleem wees vir my.
Dit sal goed wees om weg te kom, sterre te tel en die wind op ons gesigte te voel.
Dit is tyd om die spinnerakke weg te waai.
Wednesday, February 4, 2009
vriendskap
Dis alweer Februarie en hier is my Mucha kalender. Kyk hier na die res.
Die Mucha meisie het my laat dink aan my mooie vriendin in Engeland, wat einde verlede jaar getroud is met haar droom man. Sy is my maatjie, met wie ek soveel pret gehad het by die werk en in die koue strate van Oxford. Ons is absoluut teenoorgesteldes in baie opsigte, maar ons het groot vriende geraak en ek mis haar baie.
Ek kon nie by haar troue wees nie, so sy het vir my hierdie foto's gestuur, my mooie maatjie wat soos 'n beeldskone Bollywood aktrise lyk, ek moet met haar spog vandag.


Ek verlang na ons kuiers in Starbucks, waar ons gesels het oor werk, ons liefdes en baie ander dinge. Ons het ons mans op omtrent dieselfde tyd ontmoet en min het ons geweet dat ons albei 'n jaar later getroud sou wees, dat ek ver oor die oseaan sal bly en dat ons mekaar so min sal sien.
Ongelooflik hoe radikaal 'n mens se lewe kan verander in net 'n jaar.
Saturday, January 3, 2009
eenvoud

Gisteraand is ek weereens herinner aan die volgende vers in die Bybel.
Better is a dinner of herbs where love is than a fatted ox and hatred with it.
Proverbs 15:17
Amplified Bible

Vriende van die Yank kuier hier op die eiland op die oomblik. Hulle het 'n seilboot hier en kom so twee keer 'n jaar hierheen om te seil en aan die boot te werk. Hulle is alreeds in 'n verhouding vir 15 jaar, toe vind sy 'n rukkie gelede uit dat hy 'n hele paar ander verhoudings gehad het gedurende die tyd wat hulle al saam is en dat daar op die oomblik ook 'n ander vrou in sy lewe is.
Onnodig om te se dat dit 'n baie groot skok was vir haar.
Nou probeer hulle dinge uit werk, maar dit lyk my sy is die een wat sal moet inval by sy wense, hy sien niks verkeerd met die feit dat hy meer as een verhouding op dieselfde tyd het nie.
Sy lyk gebroke en het vreeslik baie gewig verloor in teenstelling met die Yank en ek, wat lekker rond geraak het die afgelope jaar.
So, toe dink ek gisteraand aan die bogenoemde versie, terwyl ons eet aan die biryani wat ek al laas week gekook het. Dit was so erg gespesery, dat ons dit moes afwater met meer en meer rys, ons het naderhand so baie gehad,dat ons nou al vier keer daaraan geeet het.
Praat van die weduwee se kruik, wat nooit opdroog nie!
Ons vriende het gisteraand by die duurste restaurant op die eiland gaan eet, terwyl die Yank en ek ons biryani potjie gedeel het.
Toe tref die gedagte my, ek verkies 'n eenvoudige, opgewarmde ete met liefde daarby as 'n ete in die duurste restaurant, met seer, wantroue, ontnugtering en skok daarby.
Monday, December 1, 2008
desember

Desember in my
Mucha kalender.
Desember het aangebreek, met stories van tereur aanvalle in Mumbaai,
barbare wat 'n assistent in 'n Walmart doodgetrap het, toe 2000 van hulle by die deure ingestorm het om hulle afslag inkopies te doen en vele meer treurige gebeurtenisse oral oor die wereld.
Vandag is internasionale vigs dag.
Kliek, kliek
en na dit alles, wonderwoorde van Carol Ann Duffy:
The year dwindles and glows
to December's red jewel,
my birth month.
The sky blushes,
and lays its cheek
on the sparkling fields.
Then dusk swaddles the cattle,
their silhouettes
simple as faith.
These nights are gifts,
our hands unwrapping the darkness
to see what we have.
The train rushes, ecstatic,
to where you are,
my bright star.
~ Carol Ann Duffy, from Rapture
Saturday, November 1, 2008
November

November in my Mucha kalender.
Net 'n paar gedagtes oor my aborsie pos van die ander dag. Dankie vir al die reaksies, positief en negatief. Jammer, ek gaan nie reageer op enige e-posse nie, ek voel te emosioneel oor die saak.
Ek oordramatiseer nie, wanneer ek sé, dat ek die afgelope weke miljoene trane hieroor gestort het nie.
Dit is 'n kwessie wat letterlik besig is om my hart uitmekaar te skeur, daar is 'n diep wroeging in my siel hieroor, dit is iets waaroor ek nie eens kan praat, sonder om te begin huil nie.
My diepste wese word aangeraak hierdeur en ek maak geen verskoning daarvoor nie.
Ek het al te naby gekom aan aborsie in my lewe en wat ek gesien het, is afskuwelik.
So, ek gaan weg wees van hier af vir 'n paar dae, ek vra weer, dat die van julle wat glo in God, asseblief sal bid vir ons verkiesing hier, in Amerika, hierdie komende Dinsdag.
Ons weet dat dit nie rérig saak maak, wie ONS in 'n posisie van mag wil hé nie, maar wie God wil.
Mag Sy wil geskied.
Wednesday, October 1, 2008
'n pienk bril

Oktober, uit my Mucha kalender.
Die Yank het die afgelope week 5uur in die oggend begin werk. Hy gaan slaap dus vroeg in die aand en ek doen my ding hier op die rekenaar.
Ek het 'n donkerte wat oor my hang deesdae, ek dink dit het te doen met die stories van donkerte in die media.
Die vallende ekonomie oor die wereld, stygende pryse hier op die eiland, ons betaal soms tot 3 keer soveel hier as wat dit kos vir dieselfde produkte op die Amerikaanse vasteland.
Dan is daar nog al die geweld ook hier, daar is baie armoede en die diefstal en dwelmhandel wat daarmee gepaard gaan.
Om nie eens te praat van 'onwettige' haan- en hondegevegte wat steeds plaasvind, onder die oe van die geregsdienaars hier, (nie).
Ja, ek sukkel deesdae selfs met die gebruik van ons dubbele nie, ek praat te min Afrikaans...
Senators wat hulle eie sakke uitvoer en 'n kussing opbou vir hulleself, hospitaal administrateurs wat steel van alreeds brandarm hospitale.
Miskien is dit maar net PMS, ek weet nie, 'n vriendin het altyd gese dat sy selfs sal huil oor 'n ou tannie wat die straat oorsteek, wanneer dit haar tyd van die maand is, wel dis hoe ek voel.
Laatnagure en musiek soos Emotionally your's deur Jimmy la Fave en die Yank wat slaap in die kamer, dit alles maak my baie weemoedig.
Ek weet egter dat die aarde steeds mooi is, dat daar steeds liefde om ons is, dat ons die hande is wat moet uitreik na die wereld en dit 'n beter plek maak en dat daar steeds yskristalle val vanuit pienk wolke op Mars...
Tuesday, September 2, 2008
koningin van die nag en Mucha

Hierdie is 'n foto van my Mucha kalender en ook van my klein juweledosie, wat ek in Praag gekoop het.
Ek is so spyt dat ek omgedraai en weg geloop het, die dag toe ek in Praag, voor die deur van die Mucha museum gehuiwer het...
Ek is so lief vir sy werk en het besluit om van nou af elke maand se prent in my kalender hier te blog.
September se kunswerk, genaamd Brightness of day, laat my so dink aan my wonderlike ondervinding 'n paar nagte gelede...
Ek het die wonderlikste plant ontdek 'n paar maande gelede en verhale gehoor van haar bordgrootte blomme met 'n bedwelmende geur, wat slegs verskyn vir een nag op 'n keer.
Wanneer sy nie blom nie, lyk sy na niks en 'n mens kan haar maklik miskyk en dag na dag daar verby loop, as jy nie weet van die wonderwerk wat wag nie...
Ek kon nie wag om haar te sien in volle glorie en met haar balrok aan nie!
Vir weke het ek angstig gewag totdat ek een oggend die reuse, groen knoppe gesien het aan haar kaktus agtige stam....

Ek was bitter teleurgesteld toe ek my misgis het met hoe lank die knoppe sou vat om oop te gaan en dit gemis het die eerste nag, maar toe sien ek dat daar nog baie toe knoppe is en het my voor geneem om haar te betrap, by die bal, daardie nag, met haar mooiste balrok aan!
Selfs 'n hengse hoofpyn kon my nie afsit daardie nag nie.
Die Yank, ek en 'n paar vriende het die pad gevat teen die heuwel op en daar was sy, op haar mooiste, 'n maagd in volle blom, by haar eerste middernag bal!
Sy is my, Koningin van die nag of Nightblooming Cereus of dan Selenicereus grandiflorus en sy was beeldskoon!


Ek moes myself wegskeur van haar af, ek het so baie foto's geneem, natuurlik met die Yank wat die flitslig op haar of agter haar hou.
Die volgende dag kon ek nie wag om haar weer te sien nie.
Ek het geweet dat sy, soos Aspoestertjie, haar balrok net vir 'n nag dra en dat dit verwelk, wanneer die son opkom...
My hoop was egter vir nog foto's en die hoop het nie beskaam nie.




Haar blomme is alreeds baie kleiner op die boonste foto's as wat hulle was die nag tevore, maar mens kry steeds 'n idee van hoe manjifiek hulle werklik is.

Weereens kon ek myself nie stop nie en het tonne foto's geneem.
Van waterdruppels op haar sagte groen vlees en die sagste geel van haar diepste binnenste, waarin mens voel of jy kan wegsink soos in sagte, geel botter...



Sy was verruklik mooi...


en sy was net absoluut onweerstaanbaar volmaak, bekoorlik, asembenewend en wat 'n voorreg om haar in lewende lywe te sien, op haar mooiste nag.
Ek sluit af met 'n oulike reseppie vanuit die Suide van Amerika.
Dis maklik, maar nie gou nie, dit is egter HEERLIK.
Dit is blykbaar wat die meisies in New Orleans aanmekaar geslaan het, voordat hulle na 'n dans toe is. Hulle het dit dan geéet met die terugkom, wanneer dit 'gaar' was.
Die reseppie maak 20 Pralines...
Na die dans Pralines
Bestandele:
1 koppie ferm gepakte ligte bruin suiker
1 eier wit, geklits
1 en 1/2 koppies gekapte pekan neute, lig gerooster
Verhit die oond tot 400'F ( werk maar self die 'C uit, my rekenaartjie sé 204,4'C )
Meng die bruin suiker en geklitste eier wit en vou die pekan neute in.
Skep opgehoopte eetlepelsvol van die mengsel op 'n bakplaat, wat met foelie bedek is.
Skakel die oond af,
Plaas die bakplaat in die oond,
Laat staan die pralines in die oond vir 8 ure.
Geniet...



