Thursday, July 24, 2008

Cowboys, poppe en prente



Die prentjie vat my toe op ver paaie van onthou...
Ek onthou 'n poskaart wat ek nog op 'n skooltoer na die Kruger wildtuin toe gekoop het. Dit het 'n prentjie op gehad wat soos die meisietjie gelyk het, ek is seker dit moes een van 'n reeks gewees het.
Ek het daai enetjie en my poskaarte met al die wilde diere so mooi op gepas, dit was 'n groot kosbaarheid. Tot die dag wat my jonger boetie dit in die hande gekry het en elkeen met 'n sker aan stukke gesny het! Ai, my hart was gebreek!
My ma moes net mooi praat en het my opgesnyde poskaarte weer aanmekaar geplak met sticky tape, maar hulle was nooit weer dieselfde nie...
Ja, die dinge waarvoor mens darem jou susters en broers moet vergewe.

My jonger suster het my pragtige loop pop eendag uit mekaar gehaal agter die deur in ons slaapkamer, onnodig om te se, sy het nooit weer geloop nie.
Ek is seker ek het ook dinge gedoen aan hulle, maar ek kan nie aan iets dink op die oomblik nie.

'n Ander prentjie wat my laat glimlag het en terug dink het, is die verpleegster en haar soldaat...
Dit was een van die uiters 'romantiese' prentjies, van 'n mooi jong dame wat 'n gewonde soldaat se hand vas hou, wat my in verpleging laat beland het. Dink net, hulle advertensies het rerig gewerk, selfs na soveel jare nog.
Lyk my daai ou matrones het geweet van adverteer, sit net 'n mooi, kranklike man op 'n foto en jy kry jou gewillige verpleegsters!
Dit is eintlik snaaks..
Dit het nou weer allerhande herinneringe geprikkel oor boeke en helde. Toe het ek sommer gaan soek op google na Zane Grey, wie se cowboy boeke my pa altyd so tot laat in die nag by die gaslamp gelees het...
Ai, maar daai cowboy manne was darem vir my mooi, daar was een boek waarop so 'n hartebreker was met 'n geskeurde hemp en hy was so bebloed, ek het sommer altyd aangeneem dat hy deur die veld gesleep is agter aan 'n perd. My hart het gebloei vir daai mooie man, ek kon nog nie Engels lees nie, so ek het maar my eie stories opgebou om die voorblaaie van die boeke.
Nou ja, die sien van een prentjie het nou sommer my kop op ver paaie laat loop..