hier, word bladsye gevul, met die asemteue van my hart. (Soos aanbeveel deur William Wordsworth)
Tuesday, August 19, 2008
Boeke, skulpe, foto's en die liefde
Ek het begin lees aan hierdie boek, ek het dit al vir jare elke nou en dan opgetel in 'n boekwinkel en gewik en geweeg om dit te koop, maar nooit sovér gekom nie. Gister toe ontdek ek die oulikste winkel met die mooiste boeke, kaartjies en geskenke hier in ons baie 'moderne' winkelsentrum.
Een van my groot klagtes oor die eiland is dat dit nie lekker winkeltjies met snuisterye het nie en daar ontdek ek die een toe toevallig en wat 'n fonds!
Hulle het toe die boek op hulle rakke en ek het dit weer opgetel en die keer besluit om dit te lees.
Sy was die eerste vrou wat 'n lisensie gekry het as 'glider' vlieénier in die VSA, maar hier gesels sy natuurlik oor lesse wat sy by die see geleer het oor die lewe, die liefde en verhoudings.
Die boek trek my aan, miskien omdat ek nou so naby aan die see bly en ek ook dinge leer uit die natuur, boodskappe kry en altyd na die dieper betekenis in gebeurtenisse soek.
"Patience and faith. One should lie empty,
open, choiceless as a beach –
waiting for a gift from the sea."
Soos die skrywer sé, leer ek ook hier op die eiland, in hierdie fase van my lewe, dat 'n mens soms net geduldig moet wag vir geskenke en gawes en dat dit dikwels van die see af kom.
Sy praat in die boek van die dubbele 'sunrise' skulp en vergelyk dit met verhoudings in haar lewe. Ek onthou toe dat die Yank die ander dag so 'n dubbele skulp opgetel het toe ons gesnorkel het en ek het dit gaan soek en dit mooi bestudeer en is totaal daardeur bekoor, kyk na my foto daarvan hieronder.
Elke klein groefie en bobbeltjie is perfek gevorm en die twee helftes pas so volmaak op mekaar. Die een helfte met 'n groefie en die ander helfte met 'n riffie om daarin te pas. Dit het my so laat dink aan my huwelik en hoe ons mekaar aanvul en so dieselfde is in so baie opsigte. Ek sien defnitief die skulp as 'n geskenk van die see af, miskien gestuur deur 'n almagtige Vader en ek sal hom prys vir my huwelik, elke keer wanneer ek na hierdie skulp kyk.
'n Ander wonderlike boek wat ek eendag opgetel het in 'n stowwerige tweedehandse boekwinkel op die Engelse platteland is die volgende een:
Die skrywer, Sherry Suib Cohen, skryf oor haar ondervindinge met haar man wat mal is oor visvang en hoe sy groei en oorleef deur dit alles. Dit het my so laat dink aan my eie huwelik met die Yank wat hou van seil en ek wat seesiek raak.
Soveel juwele in hierdie boek.
Ek het haar selfs ge-epos eenkeer en sy het 'n baie oulike e-pos terug gestuur aan my.
Ek het toe ook gister uiteindelik 'n raam vir die Yank se ouers se troufoto gekry. Ek dink dit lyk baie mooi, ek wik en weeg nog of ek die raam moet verf, ek hou nie eintlik van die donker nie, maar kyk net die pragtige detail daarvan.
My skoonouers was bitter jonk toe hulle getroud is, sewentien en agtien jaar oud en hullle is nou in hulle tagtigs, dink net hoe dit moet wees om sestig jaar getroud te wees...
Hulle is so 'n wonderlike paartjie, wat baie stry en struwel, maar mens kan sien hoe lief hulle mekaar het en dat hulle nie sonder mekaar kan lewe nie. Ek weet dat ek en die Yank mekaar te laat in die lewe ontmoet het om so lank getroud te bly, maar ek hoop dat ons ook saam oud kan word.
Hier onder is 'n foto van my groot glas bottel wat ek gevul het met skulpe, breinkoraal, ystervarkpenne en 'n metaal deurklopper in die vorm van 'n skeepsanker. Die anker is deur vriende aan ons gegee as 'n geskenk, met die wens dat ons huwelik altyd geanker sal bly...
Die volgende foto is van my 'birdfeeder', tropiese storm Faye is nou die dag hier oor ons en ons was dankbaar dat sy nie PMS gehad het en in 'n orkaan verander het nie, maar kyk net die vreemde kleur van die lug.
Dit het baie hard gedonder en blits ook, nogal skrikwekkend, alhoewel 'n mens weet dat die eiland die reén nodig het.
Ja, so bly elke dag op die eiland interressant, mens weet nooit wat vir jou wag elke dag nie. Daar is blykbaar 'n moontlikheid dat al die krag afgeskakel gaan word van Vrydag af, want ons kragstasie het nie geld nie.
Hulle wag natuurlik weer vir die Amerikaanse regering om hulle te kom help. Daar is soveel korrupsie op die eiland en almal wil net die soustrein ry. So, ons sal maar sien wat móre bring...