Monday, August 11, 2008

Ek word bederf..

So toe verdwyn ons internet vir vier dae, en dit is 'n ewigheid in die blogwéreld! Ek was skoon in 'n depressie, want dis ook my manier om met familie en vriende in kontak te bly.
Die Yank skud net sy kop en wonder hoe diep my depressie dan sal wees as ons in finansiéle moeilikheid moes beland en net rys en bone kon eet! Hy is nie 'n baie tegnologiese persoon nie, so hy kan nie die wéreld van die kuberruim so mooi klein kry nie.
Gee hom eerder 'n seil om te laat bol in die wind of 'n seilboot om te bou...
Hy kan nie verstaan dat ek enige dag sal rys en bone eet, maar moet tog net nie my internet wegvat nie!

So, hier is ek darem weer en steeds aan die opvang met vriende en kuier by my gunsteling blogs.

Ek het toe 'n wonderlike verjaardag gehad.
Die Yank het vir my die mooiste 'Cruzan hook' armband gegee met 'n Larimar steen, dit is 'n ligblou edelgesteente wat net in die Caribbean aangetref word, die verskillende skakerings van blou in die steen, is soos die verskillende skakerings van blou in die Karribiese waters en het soms wit kristalle in, in verskillend patrone.

Die Cruzan hook word so beskryf:
For over 30 years St. Croix's hook bracelet has been recognized as a symbol of true love. Worn with the hook opening towards your heart, you are taken. Worn with the hook opening away from you heart, you're yet available to find true love
.

Daar is ook 'n storie verbonde aan hierdie tipe armband. Die Yank het vir my een gegee, sonder die Larimar steen, toe ons net ontmoet het en dit aan my arm gesit met die 'hook' opening na my hart toe en my duidelik laat verstaan dat dit beteken ek is 'taken'.
Ek het toe nogal gedink hy is baie voor op die wa, maar die volgende dag was ek hopeloos verlief en 'n dag later, het hy my die ja-woord gevra en het ek ja gesé.
Ons het natuurlik toe al vir 'n maand en 'n half vir mekaar geskryf op die internet en op Skype gepraat, maar mens weet mos nie so mooi van internet mans nie...
Nooit het ek gedink dat ek so verspot sal wees om so gou te trou nie, nie na al die jare van losloop nie. Ek het altyd gesé: Rather happy and single than to be comitted to the wrong person.'
Hierdie ja sé was egter die beste ja sé van my hele lewe!

So, nou genoeg van afdwaal.
Ek het ook wonderlike Happy parfuum en lyfroom gekry, dit is my gunsteling, gunsteling reuk, dit is so lig en pas my so goed. Ek kan nie swaar reuke hanteer nie, happy maak my happy en ek is versot op die oranje van die verpakking, oranje is een van my gunsteling kleure en dit is vir my so 'n vrolike kleur.

My beste geskenke egter was die TWEE hummingbird feeders wat my man vir my gegee het!
Ek het my vorige een gebreek 'n paar weke tevore en toe verras hy my met die twee as geskenk. Ek is so gek oor die wonderlike klein voéltjies, wonderwesentjies wat ek vir die eerste keer hier gesien het, nadat ek hier kom bly het.
Ek sal nog oor hulle skryf, maar sal moet foto's soek op Google, want hulle is te vinnig vir my instamatic!

Dan het my Yank natuurlik bewys dat hy nie omgee dat ek baie vroulike rondings ;) het nie, deur vir my die lekkerste fudge te gee ook! Van julle weet seker van die heerlikheid wat deur die American fudge factory gemaak word, nou ja, daar was twee yslike blokke daarvan in my reuse geskenk pakkie! Watertandlekker!

Ons het ook lekker gaan uiteet by 'n oulike restaurant, wat nie baie goedkoop is nie, maar ek verlang so na die wonderlike restaurante in Europa, dat my man my nou en dan bederf.
Ai, maar die slaai was lekker- pere, walnuts en gorgonzola kaas, met 'n raspberry vinaigrette om mee af te skop en toe het ek 'n heerlike Thai dis geniet as hoofgereg.
Ek is baie lief vir Thai kos en daar is nie een Thai restaurant hier op die eiland nie, so ek was baie bly toe ek die dis ontdek op hierdie restaurant se menu.
Dit alles afgesluk met 'n goeie glas rooiwyn en my aand was volmaak!

Ek het 'n paar foto's saamgevlans van al my geskenke, dit is nogal snaaks hoeveel kos daar is, maar nou ja mens moet mos darem die liggaam voed ook!