hier, word bladsye gevul, met die asemteue van my hart. (Soos aanbeveel deur William Wordsworth)
Tuesday, September 23, 2008
hierdie breekbare lewe
Dit het vir drie dae aanmekaar gereen hier by ons. Nou is daar die fynste, mees delikate sampioene te sien orals.
Ek het hierdie foto's geneem en ook net betyds, want die tuinier het opgedaag en die gras gesny, my hart is seer oor al die kleine blommetjies en ander groeiseltjies wat nou verwoes is, maar wat kan mens doen.
Die plantegroei hier verander in 'n woesteny gedurende die reenseisoen, mens moet dit beheer op een of ander manier.
Ek is verlede week terug geskok na die werklikheid van my elke dag se bestaan, toe die Yank by die huis aankom met bebloede tone en geskeurde weefsels, nadat hy van 'n leer afgetuimel het.
Dit het my laat skrik en my weereens laat besef hoe breekbaar ons is en hoe ons nooit moet vergeet om vir mekaar liefde te betoon en dit vir mekaar te se nie.
Hy voel darem weer beter, maar dit is hartbrekend om my arme man te hoor kreun en steun, van die pyn in sy ribbes, wanneer hy omdraai op die bed in die nag.
Ek lees van oproer oral oor die wereld, mense se pyn en lyding, politieke onrus in SA, ontvoerde toeriste in Egipte en mense wat alles verloor het in 'n orkaan.
Ons leef voorwaar in 'n gebroke wereld, mag ons elkeen 'n hand van hoop uitreik na ander en die wereld 'n beter plek probeer maak as wat ons dit gevind het.
Een van die piepklein vlindertjies wat tussen die grassies en blommetjies gedans het.
Kliek op die foto om hom beter te sien.
En gaan kyk hoe fantasties is
haar foto's.