Friday, July 25, 2008

ek reis maar soos Alice


Die video hierbo was vir my so mooi, nou nie dat ek vir ou Louis Vuitton wil adverteer nie...

Ja, my hart trek met 'n punt na verre lande. Ek is nou eenmaal so gemaak dat ek altyd iets nuuts wil sien. Die Yank was bietjie ongelukkig met my gister, 'n vriendin het my 'n deel van die eiland gewys wat ek nog nooit gesien het nie. Dit het my so opgewonde gemaak, dit het selfs 'n knop op my maag veroorsaak.
Toe vertel ek die Yank, toe hy by die huis kom, dat ek vandag iets nuuts gesien het vir die eerste keer in 6 maande, hy was nie baie gelukkig met my nie.
Ek moes ook gou my woorde verander, want ek het besef dat dit nie heeltemal waar is nie.
Ons was darem al op twee van die ander Amerikaanse Virgin eilande hier rondom ons, vandat ek hierheen getrek het. Jammer my man...

Dit is net dat ek so gewoond was daaraan om in my karretjie te spring in Engeland en dan kon ek enige plek heen ry.
Hier moet jy of vlieg teen duurste of met die vinnige veerboot ry, en dan begin ek al opgooi 10 minute na ons begin seil het!

Ek het egter vroeg in my lewe geleer dat 'n mens baie reise kan onderneem deur jouself in boeke te verlustig. Deesdae is dit ook soveel makliker met die internet, ek vind die hele tyd dat ek op skakels click van een blog na die ander en van artikel na artikel.
So spiraal ek af en af soos Alice in die 'rabbit hole'. Dit, het ek gevind is ook 'n manier van reis...
Kyk net hoe mooi doen sy dit:

van hier: http://flickr.com/photos/moline/


Ek wil graag weet hoe ander mense keer dat hulle totaal verlore raak in 'n wonderwereld van ander mense se mooie lewens...