Hierdie is 'n uitroep aan almal wat glo in ons Hemelse Vader en wat glo dat die lewe heilig is. Die van julle wat nie net glo in God nie, maar wat ook glo dat elke lewe belangrik is, vanaf die oomblik van bevrugting. Die van julle wat glo dat selfs die klein blob, wat nie eens soos 'n mens lyk nie, die reg het om te lewe. Ek is ontsettend aangeraak deesdae deur die kreet van die miljoene klein wesentjies wat geaborteer is sedert aborsie wettig geword het. Oor die 43 miljoen, net in Amerika, sedert die sewentigerjare. Ek smeek julle, bid vir die verkiesing hier in Amerika. Die hele wéreld dink dalk dat 'n Obama regering beter gaan wees vir die wéreld en vir Amerika. Hoeveel mense weet egter dat hy belowe het dat die eerste ding, wat hy sal doen as President, is om die aborsie wet te onderteken. 'n Wet wat so radikaal is, dat dit fondse gaan wegneem van swangerskap krisis sentrums en fondse gaan gee vir aborsie klinieke. ( Hulle noem dit 'planned parenthood' hier, maar dit is net 'n beter woord vir aborsie kliniek ) Hy gaan ons belasting geld vat en dit gee vir aborsie klinieke! Dit is een van die dinge waaroor Obama geflip flop het in hierdie verkiesing, soos oor meeste van die dinge waarin hy glo, in sy stryd om aan te pas, sodat hy meer middel van die weg kan voorkom vir kiesers. Dit is egter oor en oor bewys dat sy rekord sé, dat hy baie radikaal is, wanneer dit kom by aborsie. Hy is die man wat sé, dat dit 'above my paygrade' is om te besluit wanneer lewe begin. Hy is die man, wat sé, dat hy nie wil hé, dat sy dogters met 'n baba 'gestraf' moet word, as hulle 'n 'fout' sou maak nie! Hy is een van die enigste senators in die Amerikaanse regering wat gestem het TEEN die 'infants born alive act' iets wat so erg is, dat sy ondersteuners nie wil erken dat hy dit gedoen het nie. Hyself het nou al rond geflip flop met verskonings vir die rede waarom hy die wet teengestaan is, maar daar is nou al oor en oor bewys dat hy oneerlik is oor waarin hy glo. Vir die van julle wat nie weet waaroor dit gaan nie, dit is die wet wat babatjies beskerm wat aborsies oorleef. Die wet gee daardie babatjies die reg tot mediese sorg, wanneer hulle 'n aborsie oorleef. Ja, in sommige state in Amerika word aborsies selfs in die laaste trimester van swangerskap gedoen! Daar is selfs iets soos 'partial birth abortion' waar babatjies halfpad gebore word en dan word hulle DOODGEMAAK deur die aborsie dokter! Ek kan nie begin om julle te vertel hoeveel miljoene trane ek gestort het in die afgelope weke nie! Dit is 'n saak wat SO naby aan my hart is, dit skeur my hart uitmekaar. Onthou dat die meeste aborsies in Amerika gedoen word op swart en Latynse vrouens. Die liberale media in Amerika, wil die wéreld laat glo dat alle swart mense in Amerika agter Obama staan, maar kyk na die volgende video. Dit is Dr Alveda King, Dr Martin Luther King Jr, die bekende 'civil rights' vegter se broers of susterskind, sy is 'n baie groot pro-life ondersteuner en staan aborsie teen, nadat sy self 'n aborsie gehad het as jong meisie.
Kyk ook na die wonderlike getuienis van Gianna Jessen, sy het 'n aborsie oorleef en veg nou vir die reg vir ander baba's wat aborsies oorleef.
Ek was te lank bang om oor politiek te praat hier op my blog, maar ek kan nie langer stilbly oor hierdie saak nie. Kan ek vra vir julle gebede asb. en om nie op te hou as Obama die verkiesing wen nie, maar om asb te bid dat sy hart sal verander teenoor die mees kwesbare wesentjies in Amerika! Die lewetjies, wat uit hulle moeders se baarmoeders geruk word en op vlekvrye staal tafels in hospitale gelos word om te sterf...
Dankie vir almal se besorgdheid, ons het oorleef! Omar het toe so 'n draaitjie gemaak, net toe hy by die eiland kom en sy ergste mag is oor die Oostelike deel van die eiland, ons is aan die Westelike kant. Dus is alles op die eiland nie verwoes nie, maar dit wat verwoes is, is nogal erg. Ek sal later foto's plaas, ons het steeds nie krag nie, net 'n kragopwekker. Ek kan dus nie te lank op die internet wees nie en ek MOET opvang met die politieke nuus vanuit Amerika! Dit is ongelooflik hoeveel 'n mens verloor deur net twee dae van die internet afgesny te wees.
Kliek op die foto. Kyk hoe daardie scary maalkolk op ons af gepeil het...
22 Oktober 2008
Ons krag is terug, maar dit sny nog steeds uit so vier keer 'n dag, frustrasie, maar ten minste het ons weer krag! Hier is die foto's wat ek belowe het. Hierdie is almal bote in ons hawe, die eienaars het gedink die orkaan gaan nie sterk wees nie, of hulle het die bote nie goed genoeg vasgebind nie, of die eienaars het nie omgegee nie ( daar is selfs sprake dat sommige hul bote nie goed vasgemaak het nie, sodat hulle kan eis van hulle versekering )
Hierdie is die eerste gesig wat ons begroet het, by die hawe en wat ons laat besef het dat daar groter skade was as wat ons gedink het:
Die Yank se dat daar geen verskoning is vir al die motorbote wat gekelder is nie, hulle kon verwyder gewees het na 'n veilige hawe op kort kennisgewing, dit is die seilbote wat moeiliker is.
Kyk hoe het 'n deel van die kaai afgebreek:
Ons lieflike 'boardwalk' aan flenters:
Bote wat teen mekaar vasgespoel het, een bo op die ander een teen aan die kaai, 'n mens moet jammer voel vir die ou wat sy boot goed vasgemaak het en toe word dit meegesleur deur 'n ander ou se boot:
Die Yank ken meeste van hierdie bote, hy was 'n seilinstrukteur vir 5 jaar vanuit hierdie hawe. Hy was BAIE verlig om sy 'ander' vrou- Vixen te sien, sy is die boot in die middel van die foto. Die van julle wat seemanne en hulle bote ken sal weet dat 'n seeman oor sy boot voel soos oor 'n vrou!
Damme waar gewoonlik paaie is:
Kragdrade en pale op die grond, oral oor die eiland, daar is baie skade aangerig aan die plantegroei en baie bome is ontwortel, maar die foto's daarvan doen nie reg daaraan nie:
Hierdie is een van die bote wat die Yank vasgemaak het voor die orkaan ons getref het, kyk net al die toue, voor- en agter aan haar en sy het mooi netjies bly staan:
Foto's geneem by die seiljagklub, baie bote het gesink en 'n paar is op die strand uitgespoel
Kyk die Hobbiecat in die boom, net langs die klubhuis:
Ons is dankbaar dat dit net 'n kategorie 2 of 3 orkaan was en dat dit ons nie reg in die middel van die eiland getref het nie, kan julle dink hoeveel skade dan aangerig sou gewees het. Die ergste vir my was om in die huis te sit met die orkaan shutters voor die vensters en om die wind buite te hoor waai, my man is al deur twee baie sterker orkane op die eiland en hy se dat die geluid van die loeiende wind verskriklik angswekkend is. Vir my was Orkaan Omar erg genoeg, ek wil nie 'n sterker een beleef nie!
Vandag is ek gevul met 'n vreugde en 'n dankbaarheid, wat groter is as my hart en my wese. Ons het 'n wonderlike, geseende lewe, 'n dak oor ons koppe, kos om te eet, mense om lief te he, goeie gesondheid en SO baie meer! Daar was 'n poll geneem, hier in die US 'n paar weke gelede, waarin 91% mense se dat hulle ontevrede is met die lewe in Amerika. Dit is vir my ongelooflik hoe hierdie mense kan kla, terwyl hulle steeds in een van die mees bevoorregte lande in die wereld bly. Hulle het vryheid, werkloosheid is net 6%, as 'n mens kyk na die hoeveelheid nuwe karre wat hulle elke jaar koop dan is dit skokkend. Hulle bly in kasarms en hou net aan koop... Iemand skryf nou die dag in 'n artikel dat sy by 'n winkelsentrum was en die mense het so gekoop dat sy gewonder het of Kersfees vroeer aangebreek het. Dit, terwyl ons veronderstel is om in baie erge finansiele moeilikheid te wees. Hierdie mense weet nie wat dit is om in armoede te leef nie, maar hulle weet hoe om te kla. Dit help ook nie dat sekere politici aanhou om hulle te vertel hoe gebroke hulle wereld is nie. Dit is vir my ongelooflik dat Amerikaners op die drumpel staan van 'n verkiesing waarin hulle heel moontlik met 'n so te se, sosialistiese regering gaan opeindig. Dit is ook opmerklik, dat mense in die res van die Westerse wereld, self nie Sosialiste aan bewind wil sien in hulle eie lande nie, maar wel vir Amerika wil kom vertel vir wie hulle moet stem. Hulle wil egter 'change' he, dit maak nie saak dat hulle nie regtig weet wat daardie 'change' gaan wees nie. Ek wonder wat hierdie verspotte, bedorwe brokke sou gedoen het, as hulle Oos-Europa en Rusland, gesien het, net nadat die Sosialiste daar tot 'n val gekom het. Ek het, en dit was nie 'n mooi prentjie nie... Toevallig kom ek op hierdie bloginskrywing af vanoggend .An ungrateful nation, dit nadat ek al die afgelope week vir my vriende probeer vertel het hoe geseend ons steeds is. Dit is 'n wonderlike essay oor wat Amerikaners nog het om voor dankbaar te wees. Iets wat ek geleer het terwyl ek in Europa gebly het en nou hier, is dat Europeers en Amerikaners baie dinge, wat ons in Afrika as 'n VOORREG sien, sien as 'n REG. Ek wil dit ook net duidelik maak dat die Yank en ek glad nie welaf is nie, ons leef 'n eenvoudige lewe, probeer om nie skuld te maak nie en leef binne die perke van ons inkomste, ons koop nie huise en karre wat ons weet ons nie sal kan afbetaal nie en dan blameer ons die regering as ons bankrot raak nie.
So, ek wou net se dat my hart sing van vreugde vandag. Kyk na hierdie interressante film wat ek raakgeloop het:
Beached from Keith Loutit on Vimeo. Gaan kyk hier by Keith Loutit hoe hy werklike mense en voorwerpe, soos skepe fotografeer en dit laat lyk na modelletjies. Hy gebruik ook 'stop motioning' verfilming om die regte effek te kry.
So, ons dog toe ons het dit gemis en hier kom Omar reguit vir ons vandag. Daar word voorspel dat dit nie baie sterk sal wees nie, maar nogtans is dit 'n orkaan, my eerste een ooit! Ons het al die tuinmeubels in die huis ingebring en die vensters is toegemaak met die orkaan 'shutters', die Yank het 'n paar bote wat hy met ekstra lyne moet vasmaak aan die kaai en dan is dit maar net sit en wag. Ons is in die rooi area, reg onder die H.
Hier kry ons, ons weer inligting vandaan, hou die muis oor die rooi areas en kliek om dit van nader te sien.
Ons hoop en bid dat dit gou sal verby gaan en nie baie sterk word nie, ons het 'n veilige tuiste, maar daar is soveel mense op die eiland wat in armsalige plekkies bly en die eiland het so lanklaas 'n behoorlike storm gehad, dat die plantegroei nie gewoond is daaraan nie en al die bome kan dus breek en totale verwoesting kan veroorsaak word. Met elke orkaan word die kragtoevoer afgesny en soms kan 'n mens maande sonder krag wees, so daar is baie wat kan verkeerd gaan. Sover word net 'n kategorie 2 voorspel, dit reen alreeds, die wind het nog nie begin waai nie. Ja, 'n vreemde, interressante wereld waar ek my deesdae bevind.
Vandag vier die Jode Yom Kippur, 'n dag van verootmoediging en bekering, waartydens hulle vas en hulle voorberei vir die jaar wat voorle.
Toevallig het ek onlangs 'n boek gekoop by 'n tweedehandse winkel, 'Life- Stories of courage and survival' wat handel oor die Holocaust, dit het talle getuienisse in van Jode wat in die konsentrasiekampe was. In die boek skryf 'n man dat hy onthou hoedat hy eenkeer 'n bietjie ongeduldig geraak het met 'n ouer man in 'n winkel, wat teen sy trollie gestamp het. Hy se dat hy vir 'n oomblik na die tatoeermerk op die man se pols gestaar het en dat 'n gevoel van medelye en hartseer oor hom gespoel het. Ons bestel altyd dvd's deur Netflix en ons kry toe hierdie week 'Steal a pencil for me' in die pos, 'n fliek wat handel oor 'n man en vrou wat in die kampe was en mekaar later weer ontmoet het en toe getrou het.
Ek het deur 'n stadium in my lewe gegaan, wat ek ontsettend baie gelees het oor die Jode en wat hulle deurgegaan het gedurende die tweede Wereldoorlog. Hierdie was egter twee toevallighede die afgelope dae, vreemd dat die twee dinge so op dieselfde tyd gebeur het. Ek het die dvd lankal gereserveer en nie eens besef waar dit op die lys is nie, so om dit nou te ontvang lyk amper soos 'n boodskap vir my. Ek lees al hoe meer in die nuus, van mense wat twyfel dat die Holocaust ooit gebeur het en selfs dat elitist Jode dit self laat gebeur het om ontslae te raak van laer klas en swakker Jode. Die ander dag het ek 'n blog inskrywing gelees oor die Jode en skokkende menings daaronder gelees, van mense wat wil weet of dit rerig gebeur het en allerhande beweringe wat hulle maak, soos dat Die dagboek van Anne Frank 'n versinsel is. Dit is dan ook nie vreemd dat daar deesdae 'n vrees is by sommige Jode dat die mensdom nou na 60 jaar begin vergeet wat regtig gebeur het en dat groepe bv. in Palestina die waarheid verdraai, om die wereld teen die Jode te draai. Daardie mense met die getatoeeerde nommers op hulle polse, word al hoe minder en daarmee saam verdwyn die konkrete bewyse van wat in daardie kampe gebeur het. Dan is daar nog 'n leier soos Ahmadinejad, van Iran, wat Israel van die wereldkaart af wil vee en se dat Israel 'n stinkende lyk is. Een ding wat ek nog altyd bewonder het van Amerika, is dat hulle 'n vriend is van die Jode en by Israel staan. Ek bewonder die Jode, wat altyd oorleef en iets van hulleself kan maak, waar hulle ookal in die wereld gaan, hulle sit nie rond en kla nie, hulle span die hand aan die ploeg en maak 'n sukses van hulle lewens en hulle sal mekaar altyd help, pleks van mekaar ondermyn, soos so baie ander nasies doen. So, op hierdie dag dink ek weereens aan die miljoene Jode wat so wreed gesterf het en aan die, wat vandag steeds veg vir oorlewing.
For with every victim an entire world was lost: with every survivor, a new lesson must be learned. In this light, the meaning of the Holocaust is as varied as the human heart itself
'n Wonderlike video oor kreatiwiteit. Ek stem nie met haar saam oor elke punt nie. Daar is meer in kreatiwiteit as net teken, skryf en beelde skep. Daar is ook kreatiwiteit in kos maak, huis skoonmaak en kinders opvoed, maar ek verstaan haar punt. Ek voel baie keer dat ek tyd mors wanneer ek net sit en teken of doodle, maar ek besef ook dat dit nie waar is nie. Dit is ek-tyd, waar ek krag kan kry vir die elke dag se take waarvan daar so baie is.
Ek is absoluut gek oor ouer mense, ek kan vir ure na hulle luister. Hulle sien die lewe van 'n plek waarheen ek nog moet reis. Ek is so spyt dat ek nie meer tyd met my eie Oupa's en Ouma's deurgebring het nie en hulle nie meer uitgevra het en meer na hulle verhale geluister het nie. Daar is soveel oor my familie waaroor ek nou wonder, vrae wat hulle sou kon beantwoord het.
Gaan lees oor Zelda Kaplan 92 jaar oud en kyk na die video oor haar lewe daar. Sy is op haar ouderdom steeds 'n naguil wat die nag kan om disko, maar sy werk ook vir vroueregte in Afrika. Pablo Picasso het gesé: “It takes a long time to become young" Ek dink Zelda Kaplan is 'n getuie van daardie woorde.
Kyk hoe doen die Yslanders dit:
Nog 'n naweek wat voor ons lé soos 'n oester, suig hom leeg!
Ek is verslaaf aan die Britse film instituut se youtube kanaal, die ou films herinner my aan my laerskool dae op die Suid-Afrikaanse platteland. Ons het, die laaste uur van die skoolweek op 'n Vrydag middag, film periode gehad, ek dink dit is waar my liefde vir films vandaan kom. Selfs my ongeduld om die skoolweek om te kry, sodat ek my skoene kon uittrek en op die plaas gaan rondspeel, kon my nie keer om die films te geniet nie. Kyk na hierdie juweel. Dit is 'n bietjie lank, maar kyk ten minste die eerste paar minute en dan weer teen die einde, waar die twee Britse dames die teemaak proses bespreek. Onthou asseblief, wat jy ookal doen moet tog net nie agterlosig raak met jou teemakery nie...
Vandag verlang ek na Winter, my geliefkoosde tyd van die jaar! Ek bly op 'n tropiese eiland so ek sal maar na my ou foto's kyk om 'n stukkie Winter te kry.
Kyk na hierdie wonderlike ou video wat handel oor stap in Cumbria ( die Lakedistrik in Engeland)
Dit het my laat dink aan Nikita se blog oor haar besoek daar.
Oktober, uit my Mucha kalender. Die Yank het die afgelope week 5uur in die oggend begin werk. Hy gaan slaap dus vroeg in die aand en ek doen my ding hier op die rekenaar. Ek het 'n donkerte wat oor my hang deesdae, ek dink dit het te doen met die stories van donkerte in die media. Die vallende ekonomie oor die wereld, stygende pryse hier op die eiland, ons betaal soms tot 3 keer soveel hier as wat dit kos vir dieselfde produkte op die Amerikaanse vasteland. Dan is daar nog al die geweld ook hier, daar is baie armoede en die diefstal en dwelmhandel wat daarmee gepaard gaan. Om nie eens te praat van 'onwettige' haan- en hondegevegte wat steeds plaasvind, onder die oe van die geregsdienaars hier, (nie). Ja, ek sukkel deesdae selfs met die gebruik van ons dubbele nie, ek praat te min Afrikaans... Senators wat hulle eie sakke uitvoer en 'n kussing opbou vir hulleself, hospitaal administrateurs wat steel van alreeds brandarm hospitale. Miskien is dit maar net PMS, ek weet nie, 'n vriendin het altyd gese dat sy selfs sal huil oor 'n ou tannie wat die straat oorsteek, wanneer dit haar tyd van die maand is, wel dis hoe ek voel. Laatnagure en musiek soos Emotionally your's deur Jimmy la Fave en die Yank wat slaap in die kamer, dit alles maak my baie weemoedig. Ek weet egter dat die aarde steeds mooi is, dat daar steeds liefde om ons is, dat ons die hande is wat moet uitreik na die wereld en dit 'n beter plek maak en dat daar steeds yskristalle val vanuit pienk wolke op Mars...
Meer doodles die afgelope naweek, nog politiek en dink oor die lewe. Die Yank en ek, het begin om die eposse van ons dating dae te herlees, op die datums wat ons dit vir mekaar gestuur het. Gelukkig is nie een van ons twee baie lief vir 'n telefoon nie, so ons het 'n stapel uitgedrukte eposse aan mekaar. 'n Kosbare wonder voorwaar, hoe wonderlik om dit nou te lees, nou dat ons getroud is en mekaar deur en deur ken. Ons lag en ons vee selfs 'n traan af nou en dan. Die sekerheid oor mekaar, wat so gou reeds by ons altwee ontstaan het, dat dit ware liefde is en dat ons absolute sielsgenote is en saam hoort, skemer sommer vroeg deur in ons korrespondensie aan mekaar. Dit is nooit te laat om liefdesbriewe aan mekaar te skryf nie, veral as twee mense dit nooit gedoen het nie. Soms is dit soveel makliker om iets op papier te sit as wat dit is, om dit in persoon te se. My man se eposse aan my is 'n kosbare kleinood, sy poetiese woorde en gedagtes 'n lied aan my hart en ek is so bly dat ons dit gehou het.
Ek lees nou en dan uit 'n humoristiese, klein boekie 'Don'ts for wives' deur Blanche Ebbutt wat gedruk is in 1913! Dit is vol wenke vir getroude vrouens en sommige is natuurlik lagwekkend, veral in die eeu waarin ons leef. Die een wat nou by my opkom: Don't din his perfections into the ears of every woman you meet. Be satisfied to enjoy them." Vandag gaan ek glad nie luister na Ms Ebbutt nie, ek IS getroud met die wonderlikste man in die wereld en ander vrouens moet maar daar oor kom. ( wink, wink ) 'n Ander juweel uit die boekie: Don't vegetate as you grow older if you happen to live in the country. Some women are like cows, but there really is no need to stagnate. Keep both body and brain on the move." Ek sal nou en dan hier kom lag oor 'n juweel uit die boekie. Nou ja, laat ek hierdie liggaam aan die beweeg kry, anders verkoei ek dalk...
Ek dink net vanoggend oor hoe baie plastiek die mense hier op die eiland gebruik, dit is vreeslik, ek was geskok toe ek hier aankom uit 'groen' Europa en dit moes aanskou vir die eerste keer. 'n Mens sou dink dat mense wat op 'n eiland bly, weet hoe beperk spasie is, maar hulle gebruik tonne plastiek eetgerei en borde en glase ens. Toe lees ek netnou oor hierdie 'cool' kalant, hy het niks met my onderwerp te doen nie, maar is so oulik: The punk rock turtle with a bright green mohawk, baie interressant, is ek al een wat dink dat die fotograaf dalk 'n Suid-Afrikaner is?
Ons loop 'n paar Sondae terug in die supermark en 'n oulike klein patroon van 'n dogtertjie, met boksterte hoog teen haar kop, kom ingehuppel. Sy het 'n groot appel in haar hand en se met 'n hoe stemmetjie, hard genoeg vir almal in die winkel om te hoor, dat Appelseisoen daardie dag begin het en dus MOET sy 'n appel koop, want Juffrou het so gese by die skool. Sy het dit nie net een keer gese nie, maar aanhoudend herhaal terwyl sy voortgehuppel het deur die winkel. Ek en die Yank het vir mekaar gekyk en breed geglimlag, dit was so 'n wonderlike klein juweel in ons dag, hoe belangrik is dit nie om vreugde te vind in die klein dingetjies nie! Om te leef in die oomblik en elke dag iets te doen wat jou gelukkig maak, selfs al is dit net om 'n appel te koop...
Dankie vir almal se beterskap wense aan die Yank, hy voel elke dag beter.
Dit het vir drie dae aanmekaar gereen hier by ons. Nou is daar die fynste, mees delikate sampioene te sien orals. Ek het hierdie foto's geneem en ook net betyds, want die tuinier het opgedaag en die gras gesny, my hart is seer oor al die kleine blommetjies en ander groeiseltjies wat nou verwoes is, maar wat kan mens doen. Die plantegroei hier verander in 'n woesteny gedurende die reenseisoen, mens moet dit beheer op een of ander manier. Ek is verlede week terug geskok na die werklikheid van my elke dag se bestaan, toe die Yank by die huis aankom met bebloede tone en geskeurde weefsels, nadat hy van 'n leer afgetuimel het. Dit het my laat skrik en my weereens laat besef hoe breekbaar ons is en hoe ons nooit moet vergeet om vir mekaar liefde te betoon en dit vir mekaar te se nie. Hy voel darem weer beter, maar dit is hartbrekend om my arme man te hoor kreun en steun, van die pyn in sy ribbes, wanneer hy omdraai op die bed in die nag. Ek lees van oproer oral oor die wereld, mense se pyn en lyding, politieke onrus in SA, ontvoerde toeriste in Egipte en mense wat alles verloor het in 'n orkaan. Ons leef voorwaar in 'n gebroke wereld, mag ons elkeen 'n hand van hoop uitreik na ander en die wereld 'n beter plek probeer maak as wat ons dit gevind het.
Een van die piepklein vlindertjies wat tussen die grassies en blommetjies gedans het. Kliek op die foto om hom beter te sien. En gaan kyk hoe fantasties is haar foto's.
Dit is alweer Vrydag, ek kan dit skaars glo. My ma het altyd gese dat die tyd vinniger gaan, hoe ouer 'n mens word en ek kan nou absoluut met haar saam stem. Daar is soveel dinge wat ek wou doen die afgelope week en nie by uitgekom het nie. Ek kom nie uit by baie van my geliefkoosde blogs nie, skryf nie die emails wat ek moet nie, reageer nie op al die wonderlike eiertjies wat gele word op my blog nie. Nou is dit alweer naweek en ons gaan nie by die huis wees nie, nie eens internet he nie, heel moontlik 'n goeie ding.
Die afgelope week was weer 'n passievolle een, aan hierdie kant van die wereld, met die dat die verkiesing nader kom. Ek lees verskriklik baie koerante en blogs en kyk nuus, aan albei kante van die lyn. Die dinamika van die hele politieke gebroedsel fassineer my verskriklik. Ongelukkig raak ek te betrokke en probeer ek altyd onregverdigheid uit die weg ruim en as ek dit nie regkry nie, dan het dit 'n invloed op my hele bestaan. Kyk maar as ek eers begin oor Tibet... Dit is 'n goeie ding dat die Yank met sy voete vas op die aarde staan en dat hy my emosies kan teen werk! Hy kom elke keer tot my redding met sy logika.
Iets wat ek geleer het die afgelope week, is dat ek blykbaar 'white trash' is. Volgens 'n liberale vrou in die media, in Kanada, is dit wat Sarah Palin se ondersteuners is. Wow, ek moet se, die liberale media is regtig baie 'classy'.
Iets wat ek nie kan verstaan nie, is hoe mense so absoluut aaklig kan word wanneer politiek betrokke raak, hoekom word een kandidaat afgebreek en deur die modder gesleep om hulle eie kandidaat op te bou? Hoekom iemand se naam beswadder en leuens versprei? Ek het 'n interressante artikel gelees erens, waarin gese is dat rumours en leuens en verdraaings van die waarheid 'n groot invloed speel op wat mense glo. Daar word ook gese dat, as iemand dan die leuens probeer bewys as onwaar, dat dit verder die mense se geloof in die leuens versterk. Is dit nie verskriklik nie? So, dit maak nie saak hoeveel keer jy jouself verdedig en die waarheid uitkom nie, baie mense gaan steeds die leuen glo. Die media hier in Amerika het dit goed geleer kan ek sien.
So, dit is my relaas vir Vrydag. Mooi naweek vir almal! Geniet die naweek!
Die volgende artikel van ons plaaslike koerant, hier op die eiland:
Die klomp eilanders wil nou hulle eie grondwet skryf en Suid-Afrika word voor gehou as voorbeeld.
Ek het gewonder, wat ander Suid-Afrikaners daarvan dink. Ek weet wat ek dink, maar ek het drie jaar laas my voete in die stof van Afrika laat rus...
My hart is deesdae in repe geskeur en verdeel tussen 3 kontinente en 'n eiland, 'n stukkie van my hart het agtergebly, waar ek ookal gebly het, om nie eens te praat van al die plekke waar my reise my heen gevat het nie.
Dit maak die lewe 'n pynlike affére!
Die volgende video het my onlangs vér laat dink en my diep aangeraak:
"Hurl your happiness in people's faces!" Woorde uit die fliek 'Tigre y la Nieve' of dan 'Tiger in the snow' wat ons gekyk het die afgelope naweek. Wat 'n wonder! Dit is van dieselfde regisseur, van die ander wonderlike fliek 'Life is beautiful', weer met Roberto Benigni en Nicoletta Braschi, in die hoofrolle. Tom Waits tree ook op daarin, ek het nog altyd van sy vreemde styl van musiek gehou.
Vandag wil blogger nie lekker vir my werk nie, links maak nie oop nie, foto's wil nie aanheg nie, niks wil werk nie, behalwe Youtube, wat nogal vreemd is! Ek het soveel wat ek wil pos, maar dit sal maar moet wag. Ek het baie gedink die afgelope paar weke, oor onregverdigheid in die lewe, mense wat preek oor die haat van sekere mense, maar dan haat hulle self ander groepe mense. Mense wat oordeel, sonder dat hulle iemand persoonlik ken, mense wat stories versprei, waarvan hulle nie die feite ken nie, of selfs wanneer hulle dink dat hulle die feite ken. Mense wat dink dat hulle intelektueel is en dan ander mense oordeel omdat hulle net 'gewoon' is, of dink hulle miskien 'kommin' is? Hoekom is dit so dikwels reeds die mense wat die swaarste kry om aanvaar te word, wat moet veg om te wees waar hulle is, wat eerste klippe gooi, wanneer dit by die foute van iemand anders kom.. Ek sal seker nog baie hieroor wonder en tob en met myself veg, om altyd eers die balk uit my eie oog te haal, voordat ek die splinter uit die oog van 'n ander haal.