Monday, July 21, 2008

Silwer dae, wat oplos in water



Vandag was een van die mooiste dae van my lewe hier op die eiland. Ek het die Yank vroeg more by die werk gaan aflaai en toe ry ek al langs die see terug huis toe.
Ek was weereens stomgeslaan deur die voorreg en die vreugde daarvan, om so na aan die wye oseaan te bly.
Die son het geblink op die water, wat gelyk het na gesmelte silwer en in die verte het dit gelyk asof Buck eiland op 'n spieel le.
Nou kyk, ek is nie 'n oggend mens nie, maar met mores soos die, weet ek hoekom so baie mense die dagbreek besing.
Ek het weer gaan stap hier op en af teen die bult voor ons huis en kan se dat ek dit nou al twee keer kan doen, pleks van net een keer, dit IS 'n styl bult!

In die middag na werk het ons gaan snorkel en my silwer dag het net aangehou en aangehou. Ons het so baie skole en skole silwer vissies gesien, wat om ons gedraai en geswenk het, ek was so oorstelp van die mooiheid en wonder van hierdie wereld wat aan ons gegee is!
Elke keer wat hulle verdwyn het en ek teleurgesteld gedink het dat dit nou die laaste sien van hulle was, het hulle weer verskyn. Wonderlik...



Die water was so lekker louwarm, die Yank het my nie verniet eiland toe gelok met beloftes van water wat soos fluweel op jou vel voel nie. Hy is 'n baie slim man!
Ons het uit die water gekom en gesit en wag vir die son om te sak. Die sonsondergange hier is vreeslik mooi en dit kom in alle vorms, ek wag steeds om die beroemde 'greenflash' te sien, maar gister s'n was silwer!
Ek kon dit skaars glo, 'n silwer lug met silwer geverfde wolkies op die horison en 'n son wat probeer skyn het deur die wolke, maar nie kon nie en silweragtig voor gekom het.
Die foto hier onder is van my silwer sonsak, mens kan net, net die son sien..



Ek is voorwaar geseend, ek moes soveel opgee om hier te kom bly, maar ek het soveel gekry ook.
Ek wens vir elkeen wat hier lees, ten minste een dag in jou lewe wat silwer is en wat oplos in water....