Monday, August 4, 2008

blou

Vandag voel ek blou en dit na 'n wonderlike naweek...
Ek en die Yank het in sy trok geklim Saterdag middag en gaan boendoe bashing doen en gister het ons gaan seil met vriende. Dit was nie so warm soos dit was die vorige week nie en ons het dit rérig geniet, so hoekom dan nou die blouheid?
Miskien kom dit van my droom die ander nag, ek het gedroom my ma is dood... Ek was 3 jaar laas in Suid-Afrika en dink deesdae baie aan die feit dat my geliefdes enigiets kan oorkom en dan sit ek so vér weg.
Ek word ook sommer hartseer wanneer ek dink aan die Yank se wonderlike ouers wat al in die 80 is en daar doer in Amerika is...
Hoekom is dit tog so, dit voel asof ek my hele lewe lank al geskei word van die mense wat ek liefhet.
Ek weet dit was baie keer my eie keuse om te bly waar ek was, maar dit was meestal noodgedwonge.

My lewe is waarlik goed op die oomblik. Ek het 'n wonderlike gelukkige huwelik, wat ek nooit gedink het sal gebeur nie. Al my fisiese behoeftes is bevredig, maar ek voel blou.
Miskien is dit die hitte, meeste mense kry SAD, depressie a.g.v. die Winter, ek kry dit van die Somer. Ek het nog altyd afgesny en alleen gevoel wanneer ek mense in die Somer buite hoor lag het.
Die geluid van mense wat baljaar in 'n swembad, kinderstemme wat dra op die middag briesie...

Is dit miskien omdat die tyd aanstap, ek gee tog nie om vir die ouer word nie...
Sommer net 'n paar gedagtes, dit maak dinge helderder vir my...