Wednesday, October 1, 2008

'n pienk bril


Oktober, uit my Mucha kalender.
Die Yank het die afgelope week 5uur in die oggend begin werk. Hy gaan slaap dus vroeg in die aand en ek doen my ding hier op die rekenaar.
Ek het 'n donkerte wat oor my hang deesdae, ek dink dit het te doen met die stories van donkerte in die media.
Die vallende ekonomie oor die wereld, stygende pryse hier op die eiland, ons betaal soms tot 3 keer soveel hier as wat dit kos vir dieselfde produkte op die Amerikaanse vasteland.
Dan is daar nog al die geweld ook hier, daar is baie armoede en die diefstal en dwelmhandel wat daarmee gepaard gaan.
Om nie eens te praat van 'onwettige' haan- en hondegevegte wat steeds plaasvind, onder die oe van die geregsdienaars hier, (nie).
Ja, ek sukkel deesdae selfs met die gebruik van ons dubbele nie, ek praat te min Afrikaans...
Senators wat hulle eie sakke uitvoer en 'n kussing opbou vir hulleself, hospitaal administrateurs wat steel van alreeds brandarm hospitale.
Miskien is dit maar net PMS, ek weet nie, 'n vriendin het altyd gese dat sy selfs sal huil oor 'n ou tannie wat die straat oorsteek, wanneer dit haar tyd van die maand is, wel dis hoe ek voel.
Laatnagure en musiek soos Emotionally your's deur Jimmy la Fave en die Yank wat slaap in die kamer, dit alles maak my baie weemoedig.
Ek weet egter dat die aarde steeds mooi is, dat daar steeds liefde om ons is, dat ons die hande is wat moet uitreik na die wereld en dit 'n beter plek maak en dat daar steeds yskristalle val vanuit pienk wolke op Mars...