Wednesday, July 16, 2008

'n Wilde wereld

Kan iemand my dalk se hoe sit met kappies op letters ens? Ek is maar dom wanneer dit kom by die soorte goete, 'n vriendin het my al probeer help, maar ek kan dit steeds nie doen nie....

Wel, toe gaan kyk ek en die Yank toe mos Jamaican jazz fusion die ander aand. Nou kyk daar is nie veel aan die gang op die eiland sover dit die kulturele aan gaan nie, maar so een keer elke twee maande of so het ons hierdie konserte by die Whim plantasie en dis nogal goed ook.
Dit bring herinneringe terug van opelug konserte in Engeland, wanneer die wonderlike Somer so eenkeer in 'n skrikkeljaar daar aanbreek.
Hier is so 'n ou videotjie van nou die aand se konsert. Die een ou op die elektriese viool en die ander een op die keybord.

Kyk tog die maan daar bo, een ding wat lekker is hier, is dat dit lekker is buite in die aande, dis nou as die nosee-ems mens nie uitmekaar byt nie.
Verskoon maar die skreeuende kleinding so in die middel rond....







en hier sing Cat Stevens dit, nog altyd 'n gunsteling van my gewees...







Die eiland is wonderbaarlik mooi op die oomblik met blommende flambojante oral, net jammer dis so warm, maar nou ja, sommige mense hou daarvan.

Dis ook glad nie so sleg as wat dit kon word nie, ek sien dit is al vroeg in die oggend 38'C daar in die Arabiese geweste of is dit geooste en hier word dit nooit juis meer as so 32'C nie, alhoewel ek baie dae na daai temperatuur dingetjie staar en nie kan glo dat dit al is wat dit is nie, want dit voel dan asof ek smelt, veral met die hoe humiditeit.

Ek het vanoggend die bult voor ons huis op en af gestap, kan iemand my dalk se hoekom word mens dikker wanneer jy trou?

Die Yank het gedreig hy gaan my op en af jaag teen die bult, want hy wil nie he ek moet vroeg doodgaan nie, nou ja, as 'n man praat moet mens seker luister....

Die ander dag loop ek en die Yank in die dorp en een ding wat hierdie Wes-Indiers van hou is baie plat karre met opgejazzde wiele, dit blink sommer so van die chroom. Die karre loop so laag dat hulle irriterend stadig moet ry OM die vele potholes wat oral in die paaie hier is. Dan het hulle nog die ligte met allerhande patroontjies in chroom ook ek kan my verkyk en moet net mooi loop of ek val ook in een van daai potholes!

Dit is egter sommer kotslelik vir my, nou hoe vertel mens dit in die rooitaal? Pukeugly klink nou maar eenmaal nie vir my so mooi soos kotslelik nie en soms het mens net nodig om jouself uit te druk in die taal van jou hart...

Ek wens vir elkeen hier in cyber space 'n wilde wereld, waar julle drome kan waar word en waar julle kan dink en droom in die tale van julle harte!