Tuesday, September 2, 2008

koningin van die nag en Mucha


Hierdie is 'n foto van my Mucha kalender en ook van my klein juweledosie, wat ek in Praag gekoop het.
Ek is so spyt dat ek omgedraai en weg geloop het, die dag toe ek in Praag, voor die deur van die Mucha museum gehuiwer het...
Ek is so lief vir sy werk en het besluit om van nou af elke maand se prent in my kalender hier te blog.
September se kunswerk, genaamd Brightness of day, laat my so dink aan my wonderlike ondervinding 'n paar nagte gelede...

Ek het die wonderlikste plant ontdek 'n paar maande gelede en verhale gehoor van haar bordgrootte blomme met 'n bedwelmende geur, wat slegs verskyn vir een nag op 'n keer.
Wanneer sy nie blom nie, lyk sy na niks en 'n mens kan haar maklik miskyk en dag na dag daar verby loop, as jy nie weet van die wonderwerk wat wag nie...
Ek kon nie wag om haar te sien in volle glorie en met haar balrok aan nie!
Vir weke het ek angstig gewag totdat ek een oggend die reuse, groen knoppe gesien het aan haar kaktus agtige stam....



Ek was bitter teleurgesteld toe ek my misgis het met hoe lank die knoppe sou vat om oop te gaan en dit gemis het die eerste nag, maar toe sien ek dat daar nog baie toe knoppe is en het my voor geneem om haar te betrap, by die bal, daardie nag, met haar mooiste balrok aan!
Selfs 'n hengse hoofpyn kon my nie afsit daardie nag nie.
Die Yank, ek en 'n paar vriende het die pad gevat teen die heuwel op en daar was sy, op haar mooiste, 'n maagd in volle blom, by haar eerste middernag bal!

Sy is my, Koningin van die nag of Nightblooming Cereus of dan Selenicereus grandiflorus en sy was beeldskoon!





Ek moes myself wegskeur van haar af, ek het so baie foto's geneem, natuurlik met die Yank wat die flitslig op haar of agter haar hou.
Die volgende dag kon ek nie wag om haar weer te sien nie.
Ek het geweet dat sy, soos Aspoestertjie, haar balrok net vir 'n nag dra en dat dit verwelk, wanneer die son opkom...
My hoop was egter vir nog foto's en die hoop het nie beskaam nie.









Haar blomme is alreeds baie kleiner op die boonste foto's as wat hulle was die nag tevore, maar mens kry steeds 'n idee van hoe manjifiek hulle werklik is.



Weereens kon ek myself nie stop nie en het tonne foto's geneem.
Van waterdruppels op haar sagte groen vlees en die sagste geel van haar diepste binnenste, waarin mens voel of jy kan wegsink soos in sagte, geel botter...







Sy was verruklik mooi...





en sy was net absoluut onweerstaanbaar volmaak, bekoorlik, asembenewend en wat 'n voorreg om haar in lewende lywe te sien, op haar mooiste nag.

Ek sluit af met 'n oulike reseppie vanuit die Suide van Amerika.
Dis maklik, maar nie gou nie, dit is egter HEERLIK.
Dit is blykbaar wat die meisies in New Orleans aanmekaar geslaan het, voordat hulle na 'n dans toe is. Hulle het dit dan geéet met die terugkom, wanneer dit 'gaar' was.

Die reseppie maak 20 Pralines...

Na die dans Pralines

Bestandele:
1 koppie ferm gepakte ligte bruin suiker
1 eier wit, geklits
1 en 1/2 koppies gekapte pekan neute, lig gerooster

Verhit die oond tot 400'F ( werk maar self die 'C uit, my rekenaartjie sé 204,4'C )
Meng die bruin suiker en geklitste eier wit en vou die pekan neute in.
Skep opgehoopte eetlepelsvol van die mengsel op 'n bakplaat, wat met foelie bedek is.
Skakel die oond af,
Plaas die bakplaat in die oond,
Laat staan die pralines in die oond vir 8 ure.
Geniet...