Wednesday, October 22, 2008

ons oorleef (foto's)

Dankie vir almal se besorgdheid, ons het oorleef!
Omar het toe so 'n draaitjie gemaak, net toe hy by die eiland kom en sy ergste mag is oor die Oostelike deel van die eiland, ons is aan die Westelike kant.
Dus is alles op die eiland nie verwoes nie, maar dit wat verwoes is, is nogal erg.
Ek sal later foto's plaas, ons het steeds nie krag nie, net 'n kragopwekker. Ek kan dus nie te lank op die internet wees nie en ek MOET opvang met die politieke nuus vanuit Amerika!
Dit is ongelooflik hoeveel 'n mens verloor deur net twee dae van die internet afgesny te wees.

Kliek op die foto. Kyk hoe daardie scary maalkolk op ons af gepeil het...


22 Oktober 2008

Ons krag is terug, maar dit sny nog steeds uit so vier keer 'n dag, frustrasie, maar ten minste het ons weer krag!
Hier is die foto's wat ek belowe het.
Hierdie is almal bote in ons hawe, die eienaars het gedink die orkaan gaan nie sterk wees nie, of hulle het die bote nie goed genoeg vasgebind nie, of die eienaars het nie omgegee nie ( daar is selfs sprake dat sommige hul bote nie goed vasgemaak het nie, sodat hulle kan eis van hulle versekering )

Hierdie is die eerste gesig wat ons begroet het, by die hawe en wat ons laat besef het dat daar groter skade was as wat ons gedink het:






Die Yank se dat daar geen verskoning is vir al die motorbote wat gekelder is nie, hulle kon verwyder gewees het na 'n veilige hawe op kort kennisgewing, dit is die seilbote wat moeiliker is.








Kyk hoe het 'n deel van die kaai afgebreek:


Ons lieflike 'boardwalk' aan flenters:




Bote wat teen mekaar vasgespoel het, een bo op die ander een teen aan die kaai, 'n mens moet jammer voel vir die ou wat sy boot goed vasgemaak het en toe word dit meegesleur deur 'n ander ou se boot:


Die Yank ken meeste van hierdie bote, hy was 'n seilinstrukteur vir 5 jaar vanuit hierdie hawe.
Hy was BAIE verlig om sy 'ander' vrou- Vixen te sien, sy is die boot in die middel van die foto. Die van julle wat seemanne en hulle bote ken sal weet dat 'n seeman oor sy boot voel soos oor 'n vrou!


Damme waar gewoonlik paaie is:


Kragdrade en pale op die grond, oral oor die eiland, daar is baie skade aangerig aan die plantegroei en baie bome is ontwortel, maar die foto's daarvan doen nie reg daaraan nie:


Hierdie is een van die bote wat die Yank vasgemaak het voor die orkaan ons getref het, kyk net al die toue, voor- en agter aan haar en sy het mooi netjies bly staan:


Foto's geneem by die seiljagklub, baie bote het gesink en 'n paar is op die strand uitgespoel


Kyk die Hobbiecat in die boom, net langs die klubhuis:


Ons is dankbaar dat dit net 'n kategorie 2 of 3 orkaan was en dat dit ons nie reg in die middel van die eiland getref het nie, kan julle dink hoeveel skade dan aangerig sou gewees het.
Die ergste vir my was om in die huis te sit met die orkaan shutters voor die vensters en om die wind buite te hoor waai, my man is al deur twee baie sterker orkane op die eiland en hy se dat die geluid van die loeiende wind verskriklik angswekkend is.
Vir my was Orkaan Omar erg genoeg, ek wil nie 'n sterker een beleef nie!